20/04/2013 – Day 77

by marietteferreira

‘n Mens kán jou krisisse oorwin
‘n Krisis is ‘n tyd waar alles omgekeer word; die fondamente van jou lewe word geruk, alles voel onseker, dinge is moeilik en dit kan van ergste pyn ooit wees. Dis iets wat jy alleen moet hanteer. Dít is een van die goed wat dit so moeilik maak…
In krisistye huil ek myself nie aan die slaap nie, maar dis my trane wat my laat ontwaak. In my drome was weer karakters en dinge wat ek in die werklikheid moes groet, begrawe en laat gaan. Ek het weer met die mense en diere gepraat en gespeel. In my drome het alles bedaar, dinge het weer gevoel soos dit wat ek geken het as ‘normaal’.
In krisisse laat elke tree vorentoe my terugdink, die verlede lyk skielik só blink! Nou is alles anders, oogkontak word vermy en kommunikasie is afgesny. Dis asof die lewe die seer wil vererger, maar dis nie nodig nie! Daar is genoeg pyn, seer en lyding as gevolg van al die skeidings.
Ek het my krisisse oorwin deur die vryheid te vat wat dit vir my gegee het. Dit was, soos baie dinge, ‘n keuse wat ek moes maak. Vryheid in so situasie is soos die son, as jy dit aanvaar, dan kan dit jou laat blom. Dis een van die lesse wat ek die moeilikste leer, om te laat gaan. As jy laat gaan kom jy vry, met vryheid kan jy aangaan. As jy aanhou vasklou dan vreet die pyn jou weg soos roes op yster…
Op ‘n dag het ‘n vriend van my deur ‘n krisis gegaan. Hy het my vertel van al sy seer en gevra “Hoe gaan jy aan as jy nie weet waar is jou volgende tree nie?” Ek het vir hom gesê: “Dié seer kan jy nie keer nie, maar jy kan dit hanteer…”
Vandag wonder ek hoe dit met hom gaan. Ek bel en vra “Hoe voel jy?” In my gedagtes wonder ek of hy teruggly. “Weet jy wat?” kom sy antwoord en ek wonder hoe duidelik klink alles op hierdie telefoon. “Ja?” vra ek in afwagting, “Ek is okay!” Dié woorde klink of dit vir hom ook is soos ‘n verrassing.
Ek wil lag, want ek ken en verstaan wat hy voel. Ek het gewag vir die dag en ek sê dit nie, maar hy het nog swaartye voor. Dinge gaan beter, dit weet ek, maar hy is nog nie op die regte plek. Dis ‘n plek waar jy opdaag wanneer jy nie meer smag om daar te kom nie. Jy moet self leer vryheid is die son, want dan breek die tyd aan en dit voel normaal vir jou om te blom.

Ek’t hierdie opstel in 2011 vir ‘n Afrikaanse taak geskryf, maar ek dink nie daar’s ander woorde om beter te beskryf hoe dit voel om hier in Dubai aan te pas nie.

Advertisements